Hierdie noem ek my afskeidsbrief. (Ja, lank en vervelig..)
Gister presies `n week gelede (7 Maart 2014) is Riaan Kroukamp dood gebore. Wat sê `n mens vir iemand wat `n kind aan die dood afstaan? Ek dink niks is `n baie goeie begin. Ek praat nie gewoonlik oor my verhouding met die Here nie. Hoekom nie? Soos die Engelse sê: “Talk is CHEAP!” En dan die eintelike rede is: “As jy Jesus Christus nie in my kan sien nie, het ek `n defintiewe probleem. So ek hoef nie oor Hom te praat nie. Jy moet dit net weet!”
Nou al die cliche`s: “Hoekom, waarom, hoe kan die Here dit toelaat, dit was Sy wil… Blah-blah-blah.”
Die hoekom en waarom maak nie saak nie en ek weet verseker dat dit defintitief nie die Here se wil was nie. Hoe kan ek so sê? Nou vra ek vir jou:” Sal jy ooit so iets vir jou eie kind toewens.?” Ons moet net onthou, hier is ons nou in hierdie sondige wêreld, en ja slegte dinge gebeur. Nou is dit weer so maklik om nie self verantwoordelikheid te vat nie en dit op die duiwel te pak….. maar weereens die Here het vir ons `n vrye wil gegee. (Partykeer dink ek net die lewe sou soveel makliker gewees het as God nie maar net namens ons besluite geneem het nie. Maar nou ja dis die voorreg wat ons gekry het.)
In my kop weet ek wat ek wil sê maar, ai die gedagtes kom maar krom en skeef uit. (Gelukkig het julle die opsie om op te hou lees.)
Wat ek eintelik wil sê is dat wat met my liefste seuntjie gebeur het net `n fratsongeluk was en ja ek is baie baie hartseer. Gaan dit help om kwaad te word? Gaan dit help om te wonder of jy nie dalk iets anders kon gedoen het nie? Gaan dit help om te wonder oor die hoekom`s, waarom`s en wat as? NIKS gaan help nie want Riaan is dood en niks sal hom weer terug bring nie. Sal die hartseer ooit weggaan? (Dink nie so nie…. maar nou moet ek vorentoe kyk.)
Ek het `n WONDERLIKE man en 3 PRAGTIGE kinders, en die realiteit van die lewe is dat die lewe aangaan. Ons moet eet so kos moet gemaak word, die huis moet skoon gemaak word, die wasgoed moet gewas word, die aaklikge GR4 (en minder aaklige GR1) huiswerk moet gedoen word, kinders moet rondgery word na netbal wedstryde ens.
Hoekom skryf ek hierdie brief? (Wel, dink nie eintelik dis vir mense om te lees nie want dit raak nou vrek lank …) Ek is self nie seker nie. Is dit `n getuienis? Wel daar kan ek definitief, geheel en al NEE antwoord. Skryf ek dit vir myself? Ja, ek dink so. Partykeer is daar soveel simpel gedagtes in jou kop dat jy heeltemal koek-koes raak. En die ou cliche van “closure” kry.
Skryf ek dit vir iemand anders? Dalk … (anderste sou ek net vir myself `n e-pos gestuur het sodat net ek dit kan lees smile emoticon. Meskien help al hierdie deurmekaar gedagtes iemand. Hoop ek dat iemand dalk besluit om regtig egtig `n besluit vir die Here Jesus Christus te maak? DEFINITIEF – maar hier is `n waarskuwing. As jy besluit om regtig egtig die Here te dien, moenie die mense glo wat sê hoe maklik dit is nie – want glo vir my ek dink dit is somtyds baie moeiliker. Jou probleme gaan nie net “dissapear” nie. Jy gaan nie ryk word nie en daar gaan hope mense wees wat nie van jou gaan hou nie.
Wat ek wel kan sê is dat ek sonder Jesus Christus in `n definiewe gat van depressie sou geval het. En dat dit definitief net Hy is wat hierdie ou kort lewetjie waarin ons so verstrengel raak die moeite werd maak. My ou probleempies lyk maar lagwekkend (veral die GR4 huiswerk wat my so slapelose nagte gegee het…)
So Riaan (eintelik Peanut – want dis wat ons almal jou genoem het): “Ek is baie lief vir jou en sal jou nooit vergeet nie.”
En vir die ander mense wat deur hierdie brief geswoeg het … het ek eintelik niks om voor te sê nie. Net baie dankie vir elke boodskap, elke drukkie en gedagte aan ons. Baie liefde.